Wat is balans? Balans is “’n resultaat waarin verskillende elemente gelyk of in die korrekte verhoudings is”.
Gewigsverlies en ’n gesonde, gemaklike lyf vereis ’n balans van verskeie dinge. Dinge wat jy moet beoefen, inneem en gewoontes van maak. Maar ook dinge wat jy moet aanvaar en vrede mee moet maak. Die meeste vroue is die een of ander tyd ontevrede met hoe hulle liggame lyk. Hulle hou nie van wat die skaal sê, of hoe daardie gunstelingdenim oor hulle boude sit nie. Dit is ’n alewige stryd om die heeltyd gelukkig te wees met hoe jy lyk. Aanvaar dit net, jy gaan nooit die heeltyd tevrede wees nie. Jou liggaam verander te veel en te gereeld. Party dae het jou lyf net bietjie meer liefde en aandag nodig. Om gewig te verloor, van oormatige vet ontslae te raak en jou spiere te versterk, verg goeie en gesonde balans. Maak vrede met wie en wat jy is. Vergewe jouself vir alles wat jy dink jy oor die jare moes gedoen het om fiks en gesond te bly. Eers wanneer jy ophou met die verwyte kan jy regtig aan jouself verander, vir die lang termyn, en vir altyd.
Begin beweeg! Jou liggaam gaan net sterk bly oor die jare as jy gereeld oefen. Probeer ’n klomp verskillende sportsoorte om iets te kry waarvan jy hou. Of dit nou tennis, snelstap, pilates of rolbal is, dit moet vir jou lekker wees. Hoe minder jy van ’n aktiwiteit hou, hoe skraler is die kans dat jy tyd daarvoor gaan maak. Dit is belangrik om ’n kombinasie van kardio- en kragoefeninge te doen. Onthou, jou hart is ook ’n spier en moet daarom oefening kry. Oefen drie keer ’n week vir 30 minute op ’n slag. Jy sal beslis ’n positiewe verandering in jou krag, fiksheid, en hoe jy in jou gunstelingdenim lyk, sien. Wees bedag as dit by jou etes kom. Hulle sê nie verniet, jy is wat jy eet, nie. Daar lê beslis waarheid in. As jy die heeltyd gemorskos, suiker en trooskos sonder goeie voedingswaarde eet, gaan jy soos gemorskos begin lyk en voel. Kies doelbewus kosse wat vars, gesond, kleurvol en vol voedingswaarde is. Jy sal dan ook gesond, vars en kleurvol begin lyk en voel.
Drink drie liter water elke liewe dag. Water is die natuur se hulpmiddel vir baie kwale, insluitend gewigsverlies. Genoeg water versnel jou liggaam se metaboliese prosesse wat beteken dat jy vinniger vet sal verbrand. Bly weg van gepreserveerde kosse. Eet skoon kosse in hulle natuurlikste vorm. Ek noem dit sommer Liewe Jesus-kos – die kosse wat natuurlik kan groei en rondloop op ons aarde. Geur jou kosse met kruie en speserye. Bly dus weg van souse af. Eet jouself eerder vol aan groente voor jy weer van die vleis of stysel gaan skep. Hou jou porsies klein. Ons grootste fout is, ons ooreet onsself. Drink ’n glas water voor jy eet as jy baie honger is. Beoog vir twee groot etes ’n dag, soos byvoorbeeld ontbyt en middagete. Tussenin kan jy aan ’n vrug, neute of rou groente peusel. Appelasyn is ons natuur se vetverbrander. Neem elke dag ’n groot lepel appelasyn op ’n leë maag. Jy kan dit gerus met water meng. Jy gaan wonders in jou lyf begin sien gebeur. Glo in jouself en wees geduldig. Jou lyf verander nie oornag nie. Dit vat tyd. “Be kind to your body”. Geniet die proses en hou jou lyf dop soos jy verander in ’n beter, meer gebalanseerde jy.
BIANCA VAN RENSBURG, Fiksheidsinstrukteur en Gesondheidsafrigter